Die Wolkversamelaars
Die Wolkversamelaars
Ratings1
Average rating4
We don't have a description for this book yet. You can help out the author by adding a description.
Reviews with the most likes.
Wat ‘n juweel van ‘n boek is hierdie! Vir die eerste keer leer ek van die Cloud collection appreciation organisasie. Die skrywer se liefde vir Breyten Breytenbach is duidelik, en haar grondige kennis van letterkunde en veral poësie word oënskynlik moeiteloos in die verhaal ingevleg.
Die verhaal vertel van Tallas se reis wat sy geërf het na die afgeleë dele van Skotland waar sy onder andere die eksentrieke amateurklopdanser Mikey, al 23 jaar op soek na sy Kate, die bergklimmer Connor, die herbergier Neil en die wewer Ailsa ontmoet. Die manier hoe dinge inmekaarskakel, laat dit na die waarheid klink, asof dit sou kon wees. Die waarheid, vreemder as fiksie.
Die karakter Talla, is slim, snaaks, introspektief en skerp. Sy het natuurlik haar skadukolle ook, sy is onverantwoordelik met geld en goed en hopeloos te impulsief.
“Talla se teorie is dat die hel 'n plek is waar geheime nie bestaan nie. Lang vergete herinneringe, dinge wat jy onderdruk, goed wat ander vir jou wegsteek en wat jy vir hulle wegsteek word in die hel bekend gemaak. Alles word van die dakke af geskree en op elke moontlike helse televisiekanaal gebeeldsend. Jy kan jou nie draai nie of jy word deur jou geheime op die naaste televisieskerms gekonfronteer.”
Die ruimte word so deeglik beskryf; die mistigheid, die mistiek van die “dun plekke” dat ek self wou verlore raak in die mis en wolke. Haar liefde vir haar liewe oorlede vriendin Theresa, is so deernisvol, dat ‘n sielskonneksie duidelik is tussen die skrywer en die persoon op wie se lewe die karakter gegrond is. (Raai wie het na Skrywers en boeke geluister?
Ek het suinig aan die boek gelees, bang dat dit opraak. Temas is verhoudings, verlies, soeke na die waarheid, die effek van die verlede, posttraumatiese stressindroom en dissosiatiewe geheueverlies.
“Sonder selfkennis is 'n mens soos 'n blinde in 'n kamer met vele kosbare en breekbare items. Jy swaai jou stok en indien jy gelukkig is, bly alles om jou, en in jou, heel.”
Die skywer herinner my aan Dalene Matthee en Eleanor Baker in die sin dat Die Wolkversamelaars ‘n baie wye lesersmark behoort te trek.
Talla se nagmerries oor Die Roekeloses was met tye snaaks!
Die mistiek van wolke pas perfek by mistige berge in die Skotse hooglande, en die manier waarop poësie stewig ingeweef word in die verhaal, asof dit tartanstrepe is wat geweef word by Ailsa se artisan wewery waar ons ook meer leer van die ontwerp daarvan. Dit word so gemaklik gedoen dat jy nooit voel dat dit ‘n “handleiding” is nie.
In Skotland herroep Talle ook ‘n beeld uit haar kinderjare, wat so traumaties was dat sy dit onderdruk het. So kry Talla dan uiteindelik afsluiting en heling vind plaas, sodat sy met liefde en deernis na haar ma kan kyk.
“Ek probeer verstaan.” Haar hart gaan oop, sy voel dit sagter word. Stadig, seker, soos daardie blomme wat 'n mens op time-lapse-video's sien. Die kaktusblom se pienk blare vou oop. Sy buig af na die verwese vrou, druk haar wang teen Ma s'n. “Jammer, Ma.”
(Vier en ‘n halwe ster van my, die halwe trek ek af vir klein dingetjies wat ek onwaarskynlik gevind het, maar wat ander onbenullig mag vind.)
As hierdie boek nie in die ry val vir pryse nie, hou ek op lees. Koop dit. Lees dit.