Ratings1
Average rating4
Oorlog verswelg die Boererepublieke. Volgens die Verskroeide Aarde-beleid word huise verwoes, landerye verbrand, en vroue en kinders in konsentrasiekampe aangehou. Pieter Nel lei ’n kommando bittereinders in ’n desperate opstand teen die Britse ryk. Hulle offer alles op vir ’n vrede wat dalk nooit gaan kom nie, vir ’n huis wat hulle dalk nooit weer gaan sien nie. Intussen moet Katrina Nel baklei om haarself en hul kinders aan die lewe te hou namate die toestande in die konsentrasiekampe al hoe hagliker word. Hier word haar lewe onlosmaaklik vervleg met dié van die ander vroue, die hanskakies wat die vyand help om die kampe te bestuur, en die Engelse offisier wat haar hart wil wen.
Reviews with the most likes.
Dit is ‘n aangrypende en indrukwekkende roman oor menseverhoudinge en menswees, teen die agtergrond van die aaklige realiteit van die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, met sy konsentrasiekampe en verskroeide aarde-beleid.
Verhale wat afspeel teen die agtergrond van die ABO is altyd ʼn hartseer besigheid, veral vir dié van ons wat na ons oumas en oupas se hartseerverhale geluister het.
Die storie word vertel op ʼn manier wat jou aandag gevange hou. Die verhaal fokus op Pieter Nel, ‘n bittereinder wat teen die Britse magte veg en sy vrou, Katrina, wat in ‘n konsentrasiekamp moet oorleef terwyl sy poog om haar kinders aan die lewe te hou. Dit word vertel vanuit Pieter, Katrina en die Britse offisier, kaptein William Robertson, se perspektief.
Die skrywer beskryf die verskriklike omstandighede van die oorlog en die impak daarvan op die gewone mense sonder om te verval in oordrewe grafiese beskrywings, tog skram sy nie weg van die gebeure nie. Die emosionele impak van die oorlog op die karakters word realisties en sonder melodrama uitgebeeld, getrou aan die era waar alles meer subtiel was.
Die oseaan tussenin is waarskynlik Stals se beste werk tot op datum en word sterk aanbeveel vir lesers wat hou van Irma Joubert, Helene de Kock, Jeanette Ferreira en ander skrywers van verhoudingsromans en historiese fiksie.
(Hierdie is net ‘n kort uittreksel uit ‘n resensie wat in Rapport verskyn)