Ratings1
Average rating5
"Die binneland is aan die doodgaan; droogte wurg die lewe uit alles wat eens mooi was. Gerugte bereik koning Ghatra van die Noorde, gerugte van ’n reënkoningin wat krag oor die waters het. As die stories waar is, kan hierdie Sati-met-die-Gawe die drie ryke red en sy koninkryk herstel. So word ’n kontrak gesluit vir ’n jong vrou se lewe. ’n Reuse bruidskat word na Sati se pa gestuur op die kus, en in ruil moet sy saam met Ghatra se manskappe op die wa terug die dorre binneland in reis. Nou vind Sati van die Suidland haarself ver in die vreemde, op pad na ’n lewe wat sy haarself nie kan verbeel nie. Maar die jong soldaat, Djimon, ontferm homself oor sy koning se nuwe bruid. Hy stap langs haar op die lang pad, dra vir haar veldblomme aan, wys vir haar waar die mooi wegkruip in so ’n ongenaakbare land. Dis hy wat die groen in haar laat blom. Maar soos Sati meer uitvind van hierdie nuwe land en die mans wat nou skielik oral in haar lewe vertoon, begin sy wonder of enigiemand die meisie agter die Gawe raaksien. En wanneer die koning se planne vir haar duidelik raak, vind Sati uit daar lê iets meer agter die groot Groen wat in haar binneste groei"--Provided by publisher.
Reviews with the most likes.
Die gawe van groen deur Elmarie Dercksen te is die beste erotika wat ek ooit gelees het. Óóit.
Die Gawe van Groen deur Elmarie Dercksen is 'n unieke boek wat 'n unieke mengsel van fantasie, avontuur, romanse en magiese realisme bevat. Die storie volg die avonture van Sati, 'n jong meisie met 'n gawe, op haar ossewatrek na die dorre binneland om daar met koning Ghatra van die Noorde te trou. Die Gawe is iets wat net elke vyftig jaar aan een meisie in die Suidland geskenk word. Die gawes verskil, maar die een wat Sati het, is absoluut iets besonders, iets wat nog nooit voorheen beskyf is nie.
Op pad ontdek Sati dat sy meer is as net 'n jong vrou met 'n gawe – sy is 'n sterk vrou met haar eie stem en mag. Sy raak verlief op die jong kaptein wat haar van die bekende Suid-Afrikaanse plante en diere wys, en hy help haar om haar ware self te ontdek. Dit is onduidelik in watter plek en tyd die boek afspeel, maar mens herken wel streke en sekere plante.
Die erotiek in die boek is bedwelmend, subtiel en sensitief beskryf, sonder om ooit banaal te wees. Ek vermoed alle ander erotika gaan in die toekoms aan hierdie boek gemeet word. Dit is 'n belangrike aspek van die storie omdat dit Sati se ontwaking van haar seksualiteit en selfaktualisasie verteenwoordig.
Die skryfstyl van Dercksen is meesterlik en sy skep 'n kleurryke en lewendige wêreld wat die leser vasvang van die begin af. Die karakters is goed ontwikkel en die storie is vol interessante wendings en verrassings.
Alhoewel daar baie filosofiese vrae in die boek gestel word, voel dit nooit oordrewe of vervelig nie. Inteendeel, die boek bied 'n uitdagende en stimulerende leeservaring vir enigeen wat op soek is na iets nuuts en opwindends.
Die Gawe van Groen is 'n fantastiese boek wat aanbeveel kan word aan enigeen wat hou van fantasie, avontuur en romantiek, en wat ook belangstel in die rol van vroue in die wêreld. Dit is 'n besondere bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde.