Ratings1
Average rating5
We don't have a description for this book yet. You can help out the author by adding a description.
Reviews with the most likes.
Die Engel en die Bont Bees van Johnita le Roux is ‘n literêre skat, so gladgespoel en verborge in die wêreld van Afrikaanse letterkunde soos die edelstene in die spoelgate van die Oranjerivier onderkant die Augrabies, wat so ‘n groot rol speel in hierdie boek.
Dit vertel ‘n verhaal van die joernalis, hoe Susara se lewe met dié van Magrieta Malgas vervleg en dit word 'n reis waar jy meegesleur word, jy vaar saam deur die koel dieptes van die rivier, jy voel hoe stormwater opbou en dan is daar weer ‘n onveragte kabbeling.
Soos die suurdeegplantjie wat aangegee is oor geslagte heen, rys die rivier ook oor sy walle en is daar ook die doeksagte velsakkie met kosbare stene. Dit volg geslagte van ontheemdes, maar deur alles loop ‘n draad van hoop dat die engel sal opdaag, net soos die een wat die skillerbont beeste gestuur het om die ontvoerde Klein-Lit los te koop.
Vloeke teer op vernielde mense. Wanneer jy stukkend is, ruik die aasdiere jou bloed.
Ons leer dat om kreupel te wees baie vorme kan aanneem, maar daar is altyd die moontlikheid om jou koggelaar vanuit jou eie krukke te bespring. Die ou wrokke en skuldgevoelens deur al die familielyne, het my verbyster. Ook daar kom dan ‘n engel tot redding, al is dit in die vorm van ‘n bietjie koestering van ‘n man se kop in die benerige skoot van die vrou wat hy ironies genoeg, gered het.
Die impak van hebsug deur die eeue word gestel teenoor die waarde wat inheemse bevolkingsgroepe soos Magrieta Malgas en oom Nanu Karse se voorvaders aan aardse voorwerpe soos die diamante geheg het, wat ‘n mens laat nadink oor jou eie waardes, gesien teen ‘n geskiedkundige agtergrond.
Die taalgebruik is verbeeldingryk en verrykend, die navorsing uitstekend. Die skrywer gebruik ‘n eiesoortige Afrikaans uit monde van die Trans-Gariep karakters, op ‘n baie toeganklike manier. Dit is ‘n moeilike lees, niks word vir jou met ‘n teelepel ingegee nie. Die verhaal daag jou uit. Die halwe ster wat ek sou aftrek om dit vier en ‘n half te maak, is omdat dit soms onsamehangend lees, veral vir die leser wat nog nie vertroud is met die verhaal nie. Omdat dit ‘n herlees verg, gee ek vyf. Hierdie is ‘n boek wat meer aandag verdien as wat dit gekry het.